Ons beklemtoon dikwels die belangrikheid daarvan om genoeg spuitdruppels tot by alle dele van die plant te kry. Ons moet egter ook verseker dat meer druppels bly waar dit op die blaar gedeponeer word. Benatters en olie-byvoegmiddels verlaag die oppervlakspanning van die spuitoplossing. Dit verminder druppel-afspat en verhoog die behoud van spuitdruppels op blare. Dit is ’n nommerspel, en as meer spuitdruppels behou word, sal meer van die aktiewe bestanddeel beskikbaar wees om op of binne die plant te werk. Behoud word deur spuitfaktore soos druppelspektrum beïnvloed, maar gewas- en onkruidblare speel ook ’n massiewe rol. Plantgrootte en -oppervlak sal in meer detail bespreek word.
Plantgrootte
Dit is belangrik om op groot gewasse en onkruide soveel moontlik druppels op alle dele van die blaredak te behou. Spuitdruppels moet op die boonste, middelste en onderste dele van die plant behou word. In boomgewasse moet druppels ook dikwels binne-in die boom behou word. Die teendeel is ook vir baie klein plante waar. Onkruiddoders word gewoonlik op jong, klein onkruide toegedien, om effektiewe beheer te verseker. Die probleem is dat klein onkruide ’n baie beperkte teiken vir die spuitdruppels bied. Dit is belangrik dat druppels wat wel die teiken bereik, nie weer afspat nie. Die uitdaging van klein onkruide word selfs belangriker wanneer die blare ’n vertikale oriëntasie het en die potensiaal vir behoud verlaag word. Dit is een van die redes waarom die etiket-aanbevole benatter of olie altyd gebruik moet word. Dit is belangrik om verminderde druppelafspat te hê om behoud en bedekking op groot en klein plantteikens te verseker.
Plant oppervlak
Blaarwas en trichome (hare) is op die meeste blaaroppervlaktes teenwoordig. Verder verskil die oppervlak van jong en ouer blare. Hierdie faktore het alles ’n invloed op behoudvermoë. Dit is belangrik dat spuitdruppels nie a.g.v. waslae op die blaaroppervlak afloop nie. Spuitdruppels wat op blare behou word, mag weg van die blaaroppervlak op ’n dik laag trichome gesuspendeer wees. Dit is daarom belangrik om die druppel op die werklike blaaroppervlak te behou waar dit sy werk kan doen. Die verskil in behoud tussen jong en ouer blare is ook dikwels duidelik. Dit is waarom dit belangrik is om die korrekte benatter of olie byvoegmiddel te gebruik om behoud te verseker, ten spyte van hierdie plantoppervlak-faktore.
Villa se mening
Een van die hooffunksies van benatters en olies is om behoud op alle plantgroottes en -oppervlaktes te verhoog. Ongelukkig word die belangrikheid van hierdie byvoegmiddels dikwels onderskat, en dit word glad nie gebruik nie, of die etiket-aanbevole byvoegmiddel word met ’n ongeskikte produk vervang. Beskou asseblief hierdie byvoegmiddels as ’n integrale deel van spuitoplossings. Dit sal behoud, bedekking en beheer verseker. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.