Proewe wat in Suid-Afrikaanse boerderytoestande gedoen is, toon dat die gebruik van Villa se nuutste byvoegmiddel wesenlike kostebesparings by boordgewasse meebring. Die hoofdoel van byvoegmiddels is om te verseker dat gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) hul volle potensiaal bereik en effektief presteer.
Byvoegmiddels beskerm GBP’e teen swak watergehalte, verhoog die bedekking van spuittoedienings, en verbeter die aktiwiteit van kontak- en sistemiese produkte op die blaar. Dit verminder dus die invloed van eksterne faktore sodat GBP’e meer stabiel oor verskeie omgewings presteer. Daar is selfs byvoegmiddels wat meer as een van die bogenoemde funksies verrig. Dit gebeur egter selde dat ’n byvoegmiddel effektiwiteit verhoog en terselfdertyd ook insetkoste bespaar. MASTERLOCK®, die nuutste byvoegmiddel van Villa, is juis só ’n produk en kan saam met verskeie GBP’e in boordgewasse toegedien word.
Verhoog effektiwiteit
INTERLOCK® word al vir jare saam met onkruiddoders in rygewasse gebruik om bedekking te verbeter. MASTERLOCK® is die volgende produk in die reeks wat vir bespuiting in boorde en wingerd gebruik word. Dit is ’n neerslag-hulpmiddel wat die ultra-fyn spuitdruppels modifiseer sodat daar meer druppels van die ideale grootte is. Dit verseker dus dat daar meer bedekking op alle hoogtes en dieptes van die blaredak is. Dit is ’n nommerspel, en hoe meer druppels die teiken bereik, hoe groter is die kans op effektiewe beheer. Dit verlaag ook wegdrywing van die ultrafyn druppels, dus is daar minder verlies na aangrensende gewasse.
Die oliekomponent in MASTERLOCK® verminder die verdampingstempo van druppels, wat ’n direkte positiewe effek op insek- en swambeheer het. MASTERLOCK® bevat egter ook ’n volle dosis unieke nie-ioniese benatter wat die oppervlakspanning van die spuitdruppels verlaag. Dit beteken dat daar minder afspat en meer verspreiding van spuitdruppels op die blaar is, wat tot verhoogde bedekking en effektiwiteit bydra.
Die benatter in MASTERLOCK® vervul egter ook ’n kritieke rol op die blaar. Dit skep ’n ideale omgewing in die spuitdruppelresidu vir beide kontak- en sistemiese GBP’e. Hierdie tipe produkte moet vir lang tydperke op die blaar vertoef om effektief te presteer. Die benatter en olie in MASTERLOCK® beskerm GBP’e en laat voldoende tyd vir die opname van sistemiese produkte toe. Sodoende word die effektiwiteit van insek- en swamdoders verder verhoog om die beheer van peste en plae te optimaliseer.
Die aansprake oor MASTERLOCK® word ondersteun deur hoogs wetenskaplike data uit windtonnels in die Verenigde State van Amerika asook verskeie plaaslike effektiwiteitsproewe. Daar word ook gereeld plaaslike toetse met die DROPSIGHT-tegnologie gedoen om te verseker dat daar optimale bedekking en beheer is. MASTERLOCK® het ’n hoogs uitgebreide etiket en dit is vir gebruik met verskeie Villa GBP’e in boordgewasse geregistreer.
Koste- en tydsbesparing
Villa het ’n sitrusprodusent in Letsitele bygestaan om die hoë watervolume wat hy met sy GBP’e toedien, met MASTERLOCK® te verlaag. Vir die proef is MASTERLOCK® met ’n minerale olie vergelyk en twee verskillende watervolumes is toegedien. Daar is gewoonlik met ’n ratspoed van 3-laag vir voldek gespuit en ons wou die bedekking van die GBP’e bepaal indien dit op ’n vinniger ratspoed van 1-medium gespuit word.
Om die resultate te evalueer is UVIEW (fluoresserende kleurstof) saam met die byvoegmiddels in die tenk gevoeg en die resultate is met die DROPSIGHT-toepassing bevestig. Die gemiddelde bedekking (“percentage fluorescent particle coverage” of %FPC) wat verkry is met MASTERLOCK® was amper dubbel dié van olie. MASTERLOCK® het ook beter bedekking gebied teen die laer watervolume versus die hoë volume (sien Figuur 1).

Die implikasies hiervan is verreikend. Nie net was daar hoër bedekking deur teen ’n laer watervolume te spuit nie, maar die besparing in tyd en geld is enorm. Berekeninge is gedoen om te bepaal wat die effek is daarvan om die watervolume ietwat te verlaag. Die verskil in watertoediening per hektaar tussen die twee ratte is bepaal. Die spuit (Bateleur) se lewering teen 20 Bar en 540 rpm is ook bepaal. Die spasiëring van die sitrusbome was 7 m x 3 m. Met die laer rat is daar 9 634 ℓ/ha toegedien, en die hoër rat 8 544 ℓ/ha.
Met die hoër rat is daar dus 1 090 ℓ minder water per hektaar (11%) toegedien. Dit kom neer op 10 900 ℓ minder per 10 ha, 109 000 ℓ minder per 100 ha, en net meer as ’n miljoen liter minder water per 1 000 ha. Dit is egter die tydsbesparing wat die oë laat rek. Die tydsverskil oor 100 m tussen die twee ratte was slegs 14 sekondes, maar oor ’n hektaar maak dit ’n wesenlike verskil, om nie eens te praat van groter oppervlaktes nie. Per hektaar is die besparing 6 minute 40 sekondes op die vinniger rat, per 10 ha is die besparing 1 uur 6 minute, per 100 ha is dit 11 uur en 6 minute, en oor 1 000 ha is die besparing 111 uur en 6 minute. Met minder water wat per hektaar toegedien word, word daar ook tyd bespaar omdat minder tenkhervullings nodig is. Per 10 ha word vier minder tenks benodig, 40 minder tenks is nodig per 100 ha, en 400 minder per 1 000 ha.
Indien dit vir ’n trekkerdrywer 10 minute neem om na die naaste waterpunt toe te ry, vol te maak en terug te ry voordat hy weer kan begin spuit, sal dit hom 40 minute langer neem om teen die hoër watervolume 10 ha te spuit, 6 ure 40 minute vir 100 ha, en 66 ure 40 minute vir 1 000 ha. Die algehele tydsbesparing vir spuit en volmaak is dus 1 uur 46 minute per 10 ha, 17 uur 46 minute per 100 ha, en 177 uur 46 minute per 1 000 ha. Om dit in perspektief te stel, neem dit sewe dae minder om deur ’n 1 000 ha boord te beweeg indien daar 24 uur per dag gespuit word.
Minder watergebruik bring natuurlik ook heelwat besparings in diesel- en meganisasiekostes. Indien die gemiddelde afstand na die naaste waterpunt 500 m is, is die ry-afstand om 10 ha teen die laer watervolume te spuit, 4 km minder, 40 km minder om 100 ha te spuit en 400 km minder om 1 000 ha te spuit.
Daar sal uiteraard ook ’n kostebesparing op GBP’e wees. Neem kennis dat hierdie produkte net die Villa GBP’e insluit omdat ons geen aansprake en aanbevelings oor ander produkte kan maak nie. Hou egter altyd streng binne die etiketriglyne. MASTERLOCK® is ’n unieke byvoegmiddel wat die effektiwiteit van bespuitings verhoog terwyl dit ook kostebesparings kan bewerkstellig. Dit is egter van kardinale belang om te besef dat dié kostebesparing slegs vir baie hoë watervolumes geld waar daar ruimte vir vermindering is. Dit is geensins van toepassing op laer volumes nie en dit moet oordeelkundig in samewerking met ’n Villabemarkingsadviseur toegepas word. Onverantwoordelike watervolumeverlaging is roekeloos en sal die effektiwiteit van die bespuiting nadelig beïnvloed.
Kontak jou Villa bemarkingsadviseur vir meer inligting of stuur ’n WhatsApp na 011 396 2233.
MASTERLOCK® registrasiebesonderhede: Reg. No. L 10496, Wet No. 36 van 1947. Aktiewe Bestanddeel: gemodifiseerde groente-olie (889 g/ℓ) + ander bestanddele. Waarskuwing:Veroorsaak oogirritasie. Skadelik indien ingeasem. Registrasiehouer: WinField Solutions Registration Holdings (Mpy) Bpk. Mpy. Reg. No. 2015/312008/07, POSBUS 10413, Aston Manor, 1630, Suid Afrika. Tel. (011) 396 2233. Lees altyd die etiket.