INSIGHTS

Waar jou voorgee nie saak maak nie

Toe Jacques Slabber in 1998 besluit het om ’n gholfdag aan te bied, “as ’n treat vir ons kliënte”, het hy nooit sou kon dink dié kombinasie van sy gunsteling tydverdryf en ’n dag se saamkuier sou oor die jare groei tot een van die Wes-Kaapse gewasbeskermingsbedryf se gewildste korporatiewe dae nie.

As een van die eerste Villa-verteenwoordigers in die Wes-Kaap was Jacques toevallig een van ’n groep jongmanne in die gewasbeskermingsbedryf wat graag gholf gespeel het. ’n Gholfdag het dus vir hom veel meer sin gemaak as die visvang-toere of jag-ekspedisies wat van die ander groot verskaffers graag aangebied het. En sedert daardie eerste gholfdag op Wellington gaan dié dag van krag tot krag.

“Baie ouens in die bedryf speel net eenmaal per jaar gholf, en dis by die Villa-gholfdag,” vertel Jacques trots. Uit die staanspoor het hy sterk gevoel daaroor dat nie een van die gaste vir enigiets moes betaal nie, en die geleentheid moes op ’n weeksdag gehou word om soveel moontlik mense te lok. “Ek het begin om van ons oorsese verskaffers en vennote te vra vir borgskappe. Die Amerikaners het my in dollars betaal en die Engelse in ponde, so ons kon ’n behoorlike dag aanbied, op goeie bane en met goeie kos en goeie pryse.” En die pryse is nog al die jare nie net vir diegene wat wen nie, maar vir elkeen wat deelneem.

Om die geleentheid vars en interessant te hou vir veterane én groentjies word dit ook nooit twee jaar na mekaar op dieselfde plek gehou nie. “Oor die jare het ons al op al die goeie plattelandse bane in en om die Boland-area gespeel, soos Worcester, Robertson, Langebaan, Stellenbosch en Wellington. Ons hou dit maar redelik sentraal, want jy wil nou ook nie hê ’n agent moet van Vredendal af Mosselbaai toe ry vir ’n gholfdag nie. Op daardie manier kan die ouens wat wil, ná die game nog terugry huis toe.”

Die baan is vol

’n Tipiese Villa-gholfdag lok 100 tot 120 deelnemers – te veel vir ’n konvensionele toernooi met individuele spelers. In plaas daarvan volg hulle die “American scramble”-formaat, met spanne van vier. “Al vier slaan af en gaan kyk dan wie se bal lê die beste. Die ander gaan haal dan hulle balle en sit dit by die beste een neer en gaan dan daarvandaan voort. Die formaat is baie gewild, want dit hou selfs die swakste spelers heeltyd in die game.” Omdat die dag oor interaksie gaan, word spanne so ingedeel dat verskillende maatskappye se verteenwoordigers saam in ’n span speel.

“Hulle weet nie vooraf saam met wie hulle gaan speel nie. Ons deel ook die ouens strategies in; ons sal byvoorbeeld nooit twee opposisie-agente van dieselfde dorp bymekaarsit nie, maar sê nou maar iemand uit Citrusdal saam met ’n opposisie-verteenwoordiger uit Robertson. Ons ken mos nou ook al die ouens en wie se persoonlikhede goed sal saamwerk; die manne geniet dit baie.” En net omdat dit die Villa-gholfdag heet, beteken nie dis net Villa wat drankies en eetgoed aandra nie. Van Villa se vennote en dié se personeel neem ook deel deur stalletjies by die verskeie putjies op te sit en die spelers aan te moedig met ’n koue drankie of iets te ete.

By die vierde putjie moes gholfspelers ’n helling trotseer om verversings by die Wenkem-stalletjie te kry, maar hulle is ook beloon met ’n indrukwekkende uitsig oor wat op die baan gebeur.
By die vierde putjie moes gholfspelers ’n helling trotseer om verversings by die Wenkem-stalletjie te kry, maar hulle is ook beloon met ’n indrukwekkende uitsig oor wat op die baan gebeur.
Gabrielle Redelinghuys, Imke Kritzinger, Aveline Burr-Dixon, Talana Claassen en Ilana van der Merwe van Villa Paarl-kantoor het help gholfhemde uitdeel en seker gemaak niemand is dors nie.
Gabrielle Redelinghuys, Imke Kritzinger, Aveline Burr-Dixon, Talana Claassen en Ilana van der Merwe van Villa Paarl-kantoor het help gholfhemde uitdeel en seker gemaak niemand is dors nie.

Bemarking sonder bemarking

Die gholfdag het oor die jare so gewild en suksesvol geword dat agente begin het om van hul kliënte ook saam te nooi, wat dié landbouprodusente dan die geleentheid gee om op ’n heeltemal informele manier uit te vind oor produkte waarmee die agente elke dag werk. “Maar die gholfdag is nie daar om produkte te bemark nie. As ons ’n nuwe produk bekendstel, vat ons die ouens na ’n hotel of ’n wynplaas toe en praat vir ’n hele dag oor die produk, maar op die gholfdag adverteer ons nie eens produkte nie; ons het net baie Villa-vlae. En ja, die ouens vra baie vrae oor produkte, maar dit is nie die punt van die dag nie,” sê Jacques.

Heelwat van die oorsese borge, en meer onlangs hoofbestuurslede van WinField United in Amerika, woon ook die dag by; trouens, toe die Amerikaner Dan Hennesy nog die besturende direkteur van WinField United SA was, is die jaarlikse algemene jaarvergadering geskeduleer om saam met die gholfdag te val sodat Hennesy en sy Amerikaanse kollegas saam kon gholf speel, en ná die tyd makietie hou. “Ons het baie gou op ’n punt gekom waar ek nie meer die oorsese ouens hoef te gevra het vir ’n borgskap vir die dag nie; hulle het begin bel om te hoor wanneer hulle hul deposito kan inbetaal,” vertel Jacques.

Dit is ook ’n geleentheid vir enigeen wat die dag bywoon om skouers te skuur met senior amptenare in die WinField United SA-stal, wat almal gewoonlik heeldag bly. Vir Jacques is die eintlike waarde egter om mense die geleentheid te gee om mekaar in die oë te kyk en beter te leer ken. “Al ons personeel van die Kaap is gewoonlik daar, en partykeer sal jy iemand hoor sê, ‘Ek praat elke week met jou oor die telefoon, en nou weet ek darem ook hoe jy lyk.’” En vir so ’n gholf-entoesias is dit uiteraard ’n bonus dat hy elke jaar saam met kollegas van ’n klomp verskillende maatskappye op ’n wêreldklas-gholfbaan kan speel.

Van links is Johan Schoeman, WinField United Suid-Afrika groep-finansiële beplanner; Gerald Ferreira; Karel Schutte, aankoper van Wenkem; en Abelinus Schoeman van Viking Durbanville.
Van links is Johan Schoeman, WinField United Suid-Afrika groep-finansiële beplanner; Gerald Ferreira; Karel Schutte, aankoper van Wenkem; en Abelinus Schoeman van Viking Durbanville.
Barnard Steyn van Viking De Doorns saam met drie tafeldruifprodusente uit sy distrik, Ching Viljoen, Michael Vorster en Renier Wium.
Barnard Steyn van Viking De Doorns saam met drie tafeldruifprodusente uit sy distrik, Ching Viljoen, Michael Vorster en Renier Wium.

’n Familiebesigheid

Jacques het twee jaar gelede afgetree ná hy menige sleutelposte by Villa se Kaapse kantoor beklee het – van stoorman tot bemarker. Hy het ook besluit om ná 25 gholfdae die reëlings aan iemand anders oor te laat – sy seun, Pierre, wat ook al ’n hele klompie jare by Villa in die Paarl werk. “Maar ek het myself aangestel as ’n lewenslange erelid. Ek hoef nie eens genooi te word nie; ek daag net op. Ek is nog steeds lief vir die gholfspeel.” Pierre skerts dat hy nie eintlik te veel voorbrand vir die gholfdag wil maak nie, want hy word gewoonlik oorval met navrae oor die datum vanaf Januarie.

Gholf met ’n gewete

Die Villa-gholfdag gaan ook nie net oor lekker kuier en gholf speel nie. Die organiseerders identifiseer op elke dorp waar die gholfdag gehou word twee of drie hulpbehoewende organisasies, hetsy ’n plaasskool, ouetehuis of organisasie wat gestremdes bystaan. Die skenkings is ook nie eenmalig nie, maar word vir drie agtereenvolgende jare gegee. “Vir ’n klomp van die agente wat die gholfdag bywoon, is dit ’n groot hoogtepunt dat ons ook ’n klomp geld vir behoeftiges gee,” sê Jacques.

Van die organisasies wat al oor die jare skenkings by die organiseerders ontvang het, sluit in die DS de Wet Skool vir Outisme op Bredasdorp; Die Ark op Somerset-Wes; die Brave Heart Home op De Doorns, ’n plek van veiligheid vir kwesbare kinders; die StartWell Foundation, wat landswyd voedsame maaltye aan behoeftige kinders voorsien; en Elkana Childcare in Malmesbury, ’n tuiste en maatskaplike hulpsentrum vir kwesbare meisies.

Oor die jare het Jacques ’n hele paar keer na aan trane by van die begunstigde instansies uitgestap en goed bevriend geraak met van hulle personeel. Verteenwoordigers van die skole word ook na die prysuitdeling-ete genooi wat na afloop van elke gholfdag gehou word. Die gholfdae kry ook reeds vir om en by 15 jaar ’n geestelike dimensie danksy die boodskappe van die prediker Gerald Ferreira van die Vriend van God-kerk, wat die dag se verrigtinge open met ’n kort geestelike boodskap.

“Daar is iets baie spesiaal aan die dag; dit is ’n geleentheid vir mense om by mekaar te leer, en skep die vrymoedigheid vir mense om openlik te praat oor goed wat hulle pla.” Ferreira se boodskappe het so ’n groot indruk op baie van die agente en hul kliënte gemaak dat van hulle hom oor die jare begin kontak het as daar familiekrisisse soos ’n siek kind of huweliksprobleme opgeduik het.

“Baie van ons sien mekaar net een keer per jaar, maar ons mis dit vir niks nie. Die Villa-gholfdag genees. Dis ’n dag wat die agente en hul kliënte hul telefoon kan afskakel, waar hulle nie rondjaag en met mekaar meeding nie. Dis ’n dag waarop hulle oop en eerlike gesprekke kan hê oor dinge wat saak maak.”

Villa besturende direkteur Marius Boshoff oorhandig ’n skenking aan Gerda de Goede van die Brave Heart-huis vir kwesbare kinders in De Doorns.
Villa besturende direkteur Marius Boshoff oorhandig ’n skenking aan Gerda de Goede van die Brave Heart-huis vir kwesbare kinders in De Doorns.
Marius en Pierre Slabber (links), organiseerder van die gholfdag, saam met Madine Kriek van die StartWell Foundation, wat voedsame kos vir behoeftige huishoudings vervaardig en versprei.
Marius en Pierre Slabber (links), organiseerder van die gholfdag, saam met Madine Kriek van die StartWell Foundation, wat voedsame kos vir behoeftige huishoudings vervaardig en versprei.

Share:

OTHER POSTS

Send Us A Message