Watergehalte is een van die grootste sondebokke as dit kom by die swak prestasie van verskeie gewasbeskermingsprodukte (GBP’e). Faktore soos katioonvlakke, pH en alkaliniteit kan die beheer van onkruide, insekplae en siektes verlaag. Dit is belangrik om te besef dat spuitoplossings grootliks uit water bestaan, maar die impak daarvan word dikwels onderskat. Daarom is dit noodsaaklik om ’n basiese begrip van water te hê en waarom dit nodig is om waterontledings te doen. Dit is ook krities om te besef waarom waterkondisionerende byvoegmiddels gebruik moet word om die effek van water te neutraliseer.
Katione en elektriese geleidingsvermoë (EG)
Verskeie na-opkoms sistemiese onkruiddoders word benadeel deur katione, wat natuurlik in water voorkom. Hierdie katione vorm verbindings met die onkruiddoder op die blaaroppervlak en beperk opname. Dit verleng ook die opnametyd, wat die onkruiddoder aan nadelige weerstoestande soos lae humiditeit en uiterste temperature blootstel. Waterontledings wat op onkruiddodertoedienings gemik word, moet al die vernaamste katione insluit. Dit sluit kalsium, magnesium, natrium, en kalium in. Indien jy in ’n area met ’n hoë ystervlak werk, is dit wys om dit ook in te sluit. As ’n ontleding nie gedoen kan word nie, sal ’n eenvoudige EG meting ook die totale katioon- en aniooninhoud aandui. ’n Hoë EG meting sal ten minste aandui dat een of meer van die antagonistiese katione teen ‘n hoë vlak teenwoordig is.
pH en anione
pH verlaag die effektiwiteit van GBP’e op verskeie maniere en dit moet altyd in ’n ontleding ingesluit word. Hoë pH stel sekere insekdoders aan hidrolise bloot, waar die produk in alkaliese water afgebreek word. Aan die ander kant, kan lae pH die oplosbaarheid en effektiwiteit van sommige onkruiddoders beperk en tot fisiese onmengbaarheid van spuitmengsels bydra. pH moet egter nie in isolasie gesien word nie omdat sekere anione bepaal hoe geredelik pH gemanipuleer kan word. Bikarbonaat en karbonaat bepaal die alkaliniteit of bufferkapasiteit van water. ’n Hoë bikarbonaatvlak sal die bufferkapasiteit van water verhoog, wat dit moeilik maak om die die pH met buffers te manipuleer. Aan die ander kant kan ’n baie lae bikarbonaatvlak die rede vir ’n uitermatige lae pH wees. Dit is daarom krities belangrik om ’n aanduiding van die bufferkapasiteit van spuitwater te hê.
Villa se mening
Die bogenoemde katione, anione en ander faktore behoort in ’n waterontleding ingesluit te word. Dit sal ’n goeie aanduiding gee van watter byvoegmiddels gebruik moet word. Villa het die kundigheid om selfs die ammoniumsulfaat-dosis te bepaal, gebaseer op die vlak van die vier hoofkatione. Die standaardgebruik van byvoegmiddels, ondanks watergehalte, verminder die behoefte vir ontleding. Dit is egter altyd nuttig om die potensiële katioon-antagonisme, alkaliese hidrolise, GBP oplosbaarheid en fisiese mengbaarheid te bepaal. Gebruik asseblief net die spesifieke waterkonsioneerder wat op die GBP etiket aanbeveel word. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.