INSIGHTS

Oordeelkundige toedienings bepaal sukses

Suid-Afrika se sitrusbedryf is een van die sterkste uitvoerbedrywe ter wêreld, en danksy presisieboerdery en sterk, bedryfsgerigte navorsing is dit nou ’n heeljaar-bedryf.

“Daar is nie eintlik ’n breuk tussen seisoene in die sitrusbedryf nie. Met die verskeie kulitvars waarmee geboer word begin die nuwe seisoen nog voor die laaste vrugte geoes is,” sê Vivian Butler, senior-landbou-ekonoom en sitruskenner by Villa.

Toe INSIGHTS in September 2024 met hom gesels het, was daar nog laat Valencia lemoene aan die bome, terwyl al die ander kultivars reeds in blom was.

“Meeste van ons sitrus word uitgevoer, en dit bring groot uitdagings in terme van residue op jou vrugte; jy kan nie laat in die seisoen ‘hard’ spuit nie (m.a.w. groot verskeidenheid chemie met lang weerhoudingsperiodes), want dan gaan jou residuvlakke te hoog wees of daar gaan te veel residue opgetel word.”

Sitrus-chemieprogramme begin nog voor daar enige vrugte aan die bome is. Die intensiefste chemietoedienings vind plaas in die blomtyd. Wanneer blomtyd einde se kant toe staan, begin ’n rigiede skedule van swamdodertoedienings teen swartvlek, en aan die vooraand van oestyd skop maatreëls teen valskodlingmot ook in.

“Van alles wat die bedryf beïnvloed, is swartvlek die grootste. Dis ’n fitosanitêre pes; as hulle hom optel in die buiteland, word jou hele besending afgekeur. As daar herhaaldelik swartvlek in jou besendings opgespoor word, kan daardie boord heeltemal onttrek word aan die uitvoermark.

“Dit is ’n groot kwessie, en dis eintlik kosmetiese skade, dit veroorsaak nie regtig skade aan die vrug nie, maar die skil kry ’n swart letsel.”

Om dié swart letsels te bestry is ’n arbeidsintensiewe en peperduur oefening.

“Volgens die nuwe regulasies van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling moet jou aanplantings teen 80% blomblaarval gedek wees teen swartvlek, en van daar af is dit basies kalendergebaseerde bespuitings.”

Swartvlek is boonop nie die enigste plae wat sitrusprodusente hoofbrekens gee nie. Wat swamme aanbetref is daar ook onder meer Alternaria en botritis. Wat insekte betref is daar witluis, blaaspootjie, rooidopluis en later in die seisoen vrugtevlieg en valskodlingmot. Myte is ook ’n probleem en bolwurm is vroeg in die seisoen ’n uitdaging. In die laatsomer vind kombersbespuitings in sekere distrikte plaas teen vrugtevlieg om hulle getalle onder beheer te bring.

Nodeloos om te sê, oesbeskerming is ’n beduidende uitgawe vir sitrusprodusente.

Winter- en lentebespuitings

Hoewel swartvlek weens omstrede vereistes uit die Europese Unie en mancozeb se status as ’n CMR-middel die meeste aandag kry, begin die chemieprogram lank voor die eerste mancozeb gespuit word.

“Die eerste bespuiting van die seisoen is jou winterbespuiting; dit vind plaas nog voor daar enige blomme is, en dit is om jou boorde skoon te maak. Jy wil daar veral jou rooidopluis bestry.

“Dan kry jy jou lentekompleks. By ongeveer 50% blomblaarval wil jy basies al jou insekplae beheer – rooidop- en witluis, blaaspootjie en bolwurm; Dit is ’n kritiese bespuiting aangesien die helfte van jou vrugte reeds ontbloot en baie sag is.’’

Ná die eerste mancozeb-toediening op 80% blomblaarval vind die tweede swartvlektoediening 21–25 dae later plaas, die derde swartvlektoediening 42 dae later ensovoorts, met tot vyf of ses swartvlekbespuitings wat in ’n seisoen plaasvind afhangende van die kultivar. Insekte word ook gedurende die swartvlekbespuitings beheer met chemiese groepe wat afgewissel word sodat daar nie weerstandbiedenheid ontwikkel nie.

“Wat dit moeilik maak, veral op die groot plase, is dat dit jou omtrent twee weke vat om ’n hele plaas te dek, so daar is nie juis tyd vir enige ander bespuitings tussenin nie.

“As daar ander bespuitings tussen jou swartvlekbespuitings moet gebeur, kan jy dit eintlik net met lugbespuiting doen.”

Suid-Afrika se sitrusbedryf is ’n toonbeeld van landbou-uitnemendheid en vindingrykheid, en dis danksy mense soos Vivian dat produsente kan vooruitgaan binne ’n dinamiese, uitdagende landskap.

Share:

OTHER POSTS

Send Us A Message