By Dr Brian de Villiers
April 2024
Elke gewasbeskermingsproduk het ’n inherente potensiaal. Met ’n onkruiddoder soos glifosaat, is dit om aanvaarbare onkruidbeheer teen die etiketaanbevole dosis te bewerkstellig. Alhoewel dit ’n ingeboude potensiaal is, varieer die effektiwiteit soos eksterne faktore ’n tol op glifosaat eis. Daarom is die onkruidbeheer soms heelwat swakker as die potensiaal van die onkruiddoder. Een oplossing vir hierdie probleem is om die onkruiddoder toe te dien onder omstandighede waar eksterne faktore nie ’n groot rol speel nie. Dit is egter onmoontlik om altyd vir die ideale toestande te wag; daarom word byvoegmiddels gebruik om die invloed van hierdie eksterne faktore te verminder.
Wat kan skeefloop?
Die eerste aspek wat glifosaat beïnvloed en die bedekking beperk, is die verlies van ultra-fyn spuitdruppels a.g.v. wegdrywing en verdamping. Die tweede aspek wat effektiwiteit beperk, is druppel-afspat en verminderde druppelverspreiding, wat beide die bedekking verlaag. Die derde aspek is die katione wat natuurlik in harde en brak water voorkom. Hierdie katione bind aan die glifosaat tydens spuitdruppelverdroging en beperk die opname en onkruidbeheer. Die vierde aspek is swak opname deur die wasagtige lae
op die blaaroppervlak, wat beide die tempo en hoeveelheid glifosaat-opname verminder. Opname word ook beïnvloed deur die lae humiditeitstoestande wat so algemeen in sekere dele van Suid-Afrika voorkom. Daar is dus verskeie uitdagings wat die onkruidbeheervermoë van glifosaat verlaag. Gelukkig is daar byvoegmiddels wat die meeste van hierdie uitdagings aanspreek.
Hoe kan byvoegmiddels help?
Wegdrywing en bedekking word deur die gebruik van die korrekte neerslaghulpmiddel aangespreek. Dit verseker dat meer druppels die teiken bereik en bedekking verhoog. Benatters verminder die oppervlakspanning van die spuitoplossing, wat verseker dat daar minder druppelafspat is en dat spuitdruppels matig versprei. Hou asseblief by die etiketaanbevelings of ’n tenkmengsel-benatter benodig word. Met die gebruik van ammoniumsulfaat-byvoegmiddels word die katione in harde en brak water op die blaaroppervlak gebind, voordat dit swak opgeneemde glifosaatverbindings kan vorm. Die opname van glifosaat word verder verbeter deur herbenatters, wat die spuitdruppel-residu lank ná toediening vogtig en reg vir opname hou. ’n Verdere rol van benatters is om glifosaat deur die wasagtige lae op die blaaroppervlak te help beweeg, en sodoende beter opname te verseker. Die gebruik en dosis van byvoegmiddels mag egter varieer na gelang van etiketaanbevelings en toestande. Gebruik egter altyd die etiketaanbevole byvoegmiddels om glifosaat te help om sy volle potensiaal te bereik.
Villa se mening