Deur Dr. Brian de Villiers
Vir gewasbeskermingsprodukte (GBP) om effektief te wees, moet genoeg aktiewe bestanddeel die plek van werking bereik. Vanaf die oomblik wat die GBP in die spuittenk gevoeg word, word dit ongelukkig aan verliese in elke fase van die toedieningsproses blootgestel. In die spuitoplossingsfase word verskeie onkruiddoders deur katione benadeel, terwyl sekere insekdoders deur alkaliese water afgebreek word. Sodra die spuitdruppels deur die spuitpunt vrygestel word, raak nóg meer produk deur wegdrywing, verdamping, en swak deposisie verlore. Die oorblywende GBP wat wel die teiken bereik, is dan aan druppelafspat en swak opname blootgestel a.g.v. die wasagtige lae op die blaar. Dit is merkwaardig dat GBP’e, ten spyte van hierdie verliese, effektief is. Korrekte byvoegmiddelgebruik beperk GBP verlies in al die fases van die toedieningsproses. Dit sal verseker dat meer produk die teiken bereik en dat onkruid-, siekte- en insekbeheer verbeter word.
Modifiseerders van spuitoplossings
om die spuitoplossing te modifiseer. Dit is die buffers, die soutbyvoegmiddels, en die neerslaghulpmiddels. Die spuitoplossingsfase is belangrik omdat GBP’e in die water bevat word van wanneer dit in die spuitoplossing gemeng word, totdat die druppel op die blaar uitdroog. Water bevat antagonistiese katione wat die aktiwiteit van onkruiddoders soos glifosaat, kletodim en verskeie ander produkte beperk. Gelukkig is ammoniumsulfaat-byvoegmiddels effektief om al die vernaamste antagonistiese katione te neutraliseer. Die meeste waterbronne het ’n alkaliese pH wat die hidrolise van sekere insekdoders versnel. Daarom word buffers gebruik om die pH te verlaag en om die leeftyd van insekdoders in spuitwater te verleng. Neerslaghulpmiddels verminder die persentasie ultrafyn druppels. Dit beperk wegdrywing en verdamping, terwyl dit deposisie en blaredak indringing verhoog.
Byvoegmiddels wat effektiwiteit verhoog
Alhoewel alle byvoegmiddels gebruik word om effektiwiteit te verhoog, word die benatters, olies, en kleefmiddels as effektiwiteitsverhogende produkte geklassifiseer. Die rede hiervoor is omdat hierdie drie byvoegmiddelgroepe aktief op die blaar is. Benatters en olies verminder druppel-afspat, terwyl dit die verspreiding van spuitdruppels verhoog. Dit speel ook ’n aktiewe rol om opname deur die wasagtige lae op die blaar te verhoog. Hierdie lae kan besonder dik en moeilik wees om onder lae humiditeitstoestande deur te dring. Kleefmiddels verleng die werking van sekere kontak swam- en insekdoders wanneer nodig. Alhoewel hierdie drie byvoegmiddelgroepe as effektiwiteitsverhogende produkte bekend staan, speel ander byvoegmiddels soos ammoniumsulfaat ook ’n aktiewe rol in die opnameproses.
Villa se mening
Wanneer etiket-aanbevole byvoegmiddels gebruik word, sal minder GBP verloor word, en genoeg van die aktiewe bestanddeel behoort die plek van werking te bereik. Byvoegmiddels verminder die verlies van GBP deur die hele toedieningsproses en is noodsaaklike komponente van effektiewe tenkmengsels. Kontak jou Villa-landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.