Deur Dr. Brian de Villiers
Januarie 2025
Die twee boustene vir die effektiwiteit van sistemiese gewasbeskermingsprodukte (GBP’e) is deposisie en opname. Deposisie is nutteloos sonder genoeg aktiewe bestanddeel opname. So ook is opname nutteloos sonder genoeg deposisie. Vanaf die oomblik wanneer die spuitdruppel die spuitpunt verlaat, word dit aan verskeie hindernisse blootgestel, onder meer deur wegdrywing, behoud en opname deur die wasagtige lae op die blaar. Dit is krities dat die aktiewe bestanddeel in genoegsame hoeveelhede gedeponeer en opgeneem word om beheer te verseker.
Deposisie
Die GBP behoort in genoegsame hoeveelhede op alle dele van die plant-blaredak gedeponeer te word. Om dit te verseker moet verskeie hindernisse oorkom word. Eerstens mag ’n groot persentasie spuitdruppels a.g.v. wegdrywing nooit die teiken bereik nie. Tweedens mag die druppels wat wel die teiken bereik, afspat a.g.v. ’n hoë oppervlakspanning. Derdens mag druppels nie genoeg versprei om ordentlike bedekking te verseker nie. Die regte neerslaghulpmiddel behoort gebruik te word om wegdrywing te verminder en om meer druppels op die teiken te kry. Die korrekte benatter of oliebyvoegmiddel moet toegedien word om te verseker dat druppelafspat verminder word en dat die druppels wat behou word, genoegsaam versprei. Sekere neerslaghulpmiddels bevat alreeds benatters en olies in die formulasie. Indien daar genoeg deposisie is, aktiveer dit die volgende stap vir effektiewe beheer.
Opname
Wanneer genoeg druppels op die blaar behou is, begin die opnameproses. Dit is wanneer antagonistiese katione, wat natuurlik in water voorkom, aan sekere sistemiese onkruiddoders bind en die opname beperk. Dit is ook waar antagonistiese tenkmengsels met mekaar reageer en oneffektiwiteit veroorsaak. Daarom is dit belangrik om ammoniumsulfaat-byvoegmiddels te gebruik wanneer dit met sistemiese onkruiddoders geregistreer is om met die antagonistiese katione te bind voordat dit met die onkruiddoder kan reageer. Dit is ook belangrik om ongeregistreerde en antagonistiese tenkmengsels te vermy. Die GBP wat vir opname beskikbaar is, moet dan deur die wasagtige lae op die blaar beweeg, dikwels ten tye van lae humiditeit en uiterste temperature. Dieselfde benatters en olie-byvoegmiddels wat druppelafspat verlaag en verspreiding verhoog, speel nou ’n verdere rol om opname te verbeter. Hierdie byvoegmiddels hidreer die waslae op die blaaroppervlak om die hoeveelheid aktiewe bestanddeel te verhoog wat opgeneem en na die plek van werking in die plant getranslokeer word.
Villa se mening
Beide deposisie en opname is krities om sistemiese GBP effektiwiteit te verseker. GBP’e is aan verskeie hindernisse in die hele proses blootgestel, daarom is dit belangrik om die korrekte byvoegmiddels te gebruik om beheer te optimaliseer. Indien deposisie óf opname deur die verkeerde byvoegmiddel benadeel word, sal dit die GBP effektiwiteit verlaag. Hierdie afname in effektiwiteit sal duideliker word namate die omgewingstoestande versleg. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.