Deur Dr. Brian de Villiers
Dit is alombekend dat katione in harde- en brak water verskeie na-opkoms onkruiddoders benadeel. Die vraag ontstaan egter teen watter graad dit teen verskillende katioonkonsentrasies sal gebeur. Produsente wil weet wat die drempelwaardes vir katione is om te bepaal wanneer om waterkondisioneerders te gebruik. Die probleem is dat katioon-drempelwaardes verskil na gelang van verskillende weertoestande en onkruide, en dit is amper onmoontlik om ’n akkurate antwoord hieroor te gee. Villa glo sterk daaraan om ons ammoniumsulfaat-byvoegmiddels as standaardpraktyk te gebruik wanneer dit met hierdie onkruiddoders geregistreer is, want dan word drempelwaardes minder belangrik.
Water en weer
Katione vorm verbindings met sekere onkruiddoders soos die druppel op die blaar uitdroog. Hierdie verbindings modifiseer die onkruiddodermolekuul, wat dan die opname en effektiwiteit verlaag. ’n Gegewe konsentrasie katione sal altyd ’n sekere dosis onkruiddoder bind, maar dit beteken nie dat ons die effektiwiteit kan voorspel nie. Onder optimale weerstoestande is opname ideaal en sal die antagonistiese effek van katione nie so opmerklik wees nie. Dit is omdat genoeg onkruiddoder steeds opgeneem word om onder daardie toestande effektief te wees. Aan die ander kant sal opname benadeel word onder swak weerstoestande, daarom sal dieselfde konsentrasie katione ’n groter impak hê. Dieselfde geld vir onkruide. Katioon antagonisme sal meer opmerklik op moeilik beheerbare onkruide wees, of op onkruide wat onder stremming is. Enige faktor wat dus opname benadeel, sal die effek van antagonistiese katione versterk.
Byvoegmiddels
Dieselfde beginsel geld vir byvoegmiddels. Optimale weerstoestande en maklik beheerbare onkruide sal meer vergewensgesind wees, en ’n mens mag wegkom deur ’n minder effektiewe waterkondisioneerder te gebruik. Dit is omdat genoeg onkruiddoder steeds opgeneem word, ondanks die swak prestasie van die byvoegmiddel. Ongunstige weerstoestande en moeilik beheerbare onkruide sal egter die beperkings van oneffektiewe byvoegmiddels ontbloot, met gevolglike onaanvaarbare beheer. Dit is die rede waarom ons by Villa net ons ammoniumsulfaat-bevattende byvoegmiddels vir hierdie doel aanbeveel. Dit is die effektiefste byvoegmiddels vir ons katioon-sensitiewe onkruiddoders en dit sal help om die bes moontlike onkruidbeheer onder alle toestande te lewer. Dit het ook addisionele voordele wat effektiwiteit verhoog, daarom behoort dit ’n integrale deel van hierdie toedienings te wees.
Villa’s stance
Katioon-drempelwaardes is amper onmoontlik om te bepaal omdat antagonisme deur weer en onkruide beïnvloed word. Ons vind dat ons ammoniumsulfaat-byvoegmiddels die beste resultate onder alle weerstoestande lewer. Moet asseblief nie die risko neem om ons ammoniumsulfaat byvoegmiddels te vervang wanneer die Villa-onkruiddoders toegedien word nie. Dit mag ’n vernietegende effek op onkruidbeheer hê. Kontak jou Villa landboukundige vir meer inligting oor byvoegmiddels en watergehalte.
