Waterkwaliteit regstellende byvoegmiddels

By Dr Brian de Villiers

Januarie 2024

Gewasbeskermingsprodukte (GBPe ) word met water gemeng om eweredig oor ‘n oppervlakte toegedien te word. Water het egter chemiese en fisiese eienskappe wat nadelig vir GBP effektiwiteit kan wees. Ses hoofgroepe byvoegmiddels word wêreldwyd gebruik, naamlik buffers, soutbyvoegmiddels, neerslag hulpmiddels , benatters, olies en kleefmiddels . Dit is ongelooflik om te dink dat vier van hierdie byvoegmiddelgroepe ten volle of gedeeltelik by die aanspreek van waterkwaliteit betrokke is. Dit is daarom belangrik om altyd die effektiefste byvoegmiddels te gebruik om die spuitwater aan te spreek. Die belangrikheid van spuitwater word ongelukkig dikwels deur produsente verontagsaam , wat tot verkeerde byvoegmiddel gebruik en swak beheer lei.

Katione en pH

Alle waterbronne bevat ‘n sekere hoeveelheid opgeloste katione en het ‘n spesifieke pH. Soutbyvoegmiddels word wyd met sekere na opkoms onkruiddoders gebruik om antagonistiese katione te neutraliseer en om effektiwiteit te verhoog. Na soveel jare van ammoniumsulfaat gebruik glo ons steeds dat dit die effektiefste soutbyvoegmiddel vir
onkruiddoders is. Ons beveel dus die standaard gebruik van hierdie byvoegmiddels aan wanneer dit deur die etiket aanbeveel word. Water in Suid Afrika het ‘n alkaliese pH, dikwels tussen 7 en 9. Alkaliese water bespoedig die afbraakproses van insekdoders en dit kan ook die effektiwiteit van ander produkte benadeel. Ons moedig dus die gebruik van buffers saam met al ons insekdoders aan waar die etiket spesifiek versuring aanbeveel. Slegs die aanbevole buffers moet teen die etiketdosis gebruik word om die korrekte pH te verseker , afhangend van die water se buffervermoë . Onthou , ‘n klein verskil op die pH skaal beteken ‘n groot verskil in suurheid

Oppervlakspanning

Een van die definisies van oppervlakspanning is die vermoë van ‘n vloeistof om op te tree asof dit in ‘n elastiese laag omhul is. Ongelukkig het water ‘n hoë oppervlakspanning , daarom is die spuitdruppels geneig om van die blaar af te spat. Dit verlaag die behoud en deposisie van spuitdruppels en het ‘n direkte negatiewe impak op beheer. Daarom
word benatters en olie byvoegmiddels gebruik om oppervlakspanning van die spuitoplossing te verlaag en om druppel afspat te verminder. Net die byvoegmiddel wat op die GBP etiket gelys word moet egter gebruik word omdat produkte op die mark baie in hul vermoë om oppervlakspanning te verlaag, verskil . Die verlaging van oppervlakspanning het ook ‘n invloed op die verspreiding van die druppel nadat dit behou word. Alhoewel benatters en olies baie ander voordele het, speel dit ‘n baie belangrike rol met die fisiese aspekte van waterkwaliteit.

Villa se mening

Waterkwaliteit is een van die mees beperkende faktore vir GBPe . Dit is nie net die chemiese eienskappe van water wat belangrik is nie , maar die oppervlakspanning speel ook ‘n groot rol. Dit is die rede waarom vier byvoegmiddelgroepe ten volle of gedeeltelik by die oplossing van waterkwaliteitprobleme betrokke is. Voordat die geregistreerde byvoegmiddels met soortgelyke produkte op die mark vervang word, neem eers die volle impak in ag . Indien waterkwaliteit nie ten volle met die korrekte byvoegmiddel aangespreek word nie , sal dit tot swak beheer lei, ‘n moontlike herbespuiting noodsaak , en verhoogde pes en onkruidbesmetting tot gevolg hê . Kontak jou Villa bemarkingsadviseur vir meer inligting oor byvoegmiddels en waterkwaliteit.

Share:

OTHER POSTS

Send Us A Message